
Gedurende verlede jaar se Aldam-vleisbeesskool was ’n groot groep rolspelers in die rooivleisbedryf se waardeketting dit eens – die bedryf benodig ’n strategiese, volhoubare en winsgewende plan vir die toekoms.
’n Taakspan is op die been gebring om dié doel te bereik en ’n Rooivleisbedryf-werkwinkel vind op 16 Maart in Pretoria plaas om die bedryf se pad vorentoe te bespreek en beplan. Die doel is om insette van soveel rolspelers as moontlik in te win en belangstellendes word genooi om hul bydrae te lewer om die rooivleisbedryf se toekomstige posisie te help bepaal.
Insette kan op die webwerf www.syntagm.co.za/rmi gegee word en “sal gebruik word om verskillende aksies te prioritiseer”, luidens ’n mediaverklaring. Die bevindinge sal dan by die werkswinkel bespreek word. “Ons moedig alle belanghebbende rolspelers in die rooivleisbedryf aan om aan die proses deel te neem en om op die webblad te registreer.”
Na afloop van die 2016-vleisbeesskool het die Rooivleisprodusente-organisasie en Opkomende Rooivleisprodusente-organisasie, asook die Rooivleisindustrieforum en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye die Suid-Afrikaanse Beesvleisgenomika-program (BGP) se doelwit om ’n Rooivleisbedryf-werkswinkel te hou, ondersteun.
Neem ook op die Facebook-blad en Facebook-profiel, asook Twitter deel. Gebruik die hutsmerk #redmeatindustry2017 en neem deel aan die gesprek.