
Te midde van groeiende kommer oor die leë Wes-Kaapse damme gaan die provinsiale regering nou waterbeperkings op ál die provinsie se munisipaliteite begin afdwing.
Mnr. Anton Bredell, minister van plaaslike regering en omgewingsake, het verlede week alle munisipaliteite in die provinsie kennis gegee om ’n bepaling van hul waterbehoeftes te doen en daarvolgens die omvang van hul waterbeperkings aan te dui.
Dit kom amper drie maande ná die Wes-Kaapse premier, me. Helen Zille, die provinsie tot rampgebied verklaar het. In antwoord op ’n vraag van Landbouweekblad oor vordering met stappe om die provinsie se waterbronne uit te brei, het Zille se woordvoerder, mnr. Michael Mpofu, die navraag na Bredell se kantoor verwys.
Waterramp
Uiteindelik is ’n mediaverklaring van 31 Julie aangestuur waarin Zille aankondig dat die provinsiale regering toegeslikte toevoerkanale uit die Voëlvleidam gaan oopgrawe teen ’n koste van R3,5 miljoen, al is dit die plig van die nasionale Departement van Water en Sanitasie.
Die Wes-Kaapse regering vra reeds sedert Desember 2015 dat die provinsie tot rampgebied verklaar word. Zille sê daar is onlangs “inligting aangevra oor alle nuwe watertegnologieë in drie kategorieë, naamlik die volhoubare onttrekking van water uit akwifere, ontsouting en hergebruik”.
“Die voorleggings was baie bemoedigend en sal die basis vorm van ’n groot tenderproses wat binnekort begin om die nuutste tegnologieë in te span.” Zille wil ook die koste van die werk aan die Voëlvleidam van die nasionale regering verhaal.