
Drie verdagtes wat vermoedelik 24 skape op ’n plaas by Volksrust gesteel het, is gister kort voor middernag in hegtenis geneem.
Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die drie verdagtes – Sipho Khumalo (32), Bongani Philemon Mbonani (33) en Bonkosi Mabaso (37) – die plaas in ’n rooi Toyota-bakkie betree. Hulle het die skape geslag, die karkasse en vleis op die bakkie gelaai en gevlug.
Lede van die gemeenskap het onraad vermoed toe hulle die bakkie sien verbyry. Die bakkie is voorgekeer. Die owerhede is ingelig. Lede van Wakkerstroom se veediefstaleenheid het die bakkie ondersoek en 12 skaapkarkasse en ’n groot hoeveelheid skaapvleis gevind.
Die verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla vir die besit van gesteelde eiendom. Hulle het vandag in die Volksrust-landdroshof verskyn. Hulle verskyn weer op 21 Februarie vir hul borgtogaansoek. Hulle bly tot dan in aanhouding.
Lt.genl. Semakaleng Daphney, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, sê die ruimte waarbinne misdadigers bedrywig is, verklein moet word. “Ons gemeenskap kla al hoe meer oor veediefstal. Ons het besluit om beslissend daarteen op te tree. Ons moedig mense dus aan om nie gesteelde eiendom te koop nie.”