
Vier renosterhorings is in ’n plaashuis buite Fouriesburg gevind waar drie verdagtes weens onwettige handel in renosterhoring en die besit van witrenosterhorings aangekeer is. Die vier horings van sowat 5 kg se waarde word op R2,5 miljoen geskat.
Luidens ’n berig in Volksblad sal ’n 61-jarige eiendomsagent, haar man en nog ’n vrou Woensdag (25 Julie 2012) in die hof op die dorp verskyn. Ao. Zweli Mohobeni, polisiewoordvoerder, sê lt. Kitty Taljaard, speurder van die Polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, van haar kollegas en lede van die honde-eenheid het op die vonds afgekom.
Lokval
Die ondersoek na die verdagtes duur glo reeds maande lank en hulle is vasgetrek nadat die vroue glo ’n transaksie met ’n polisielokvink wou aangaan.
’n Polisiehond, Boesman, het ao. Havie Havenga en ao. Elias Motyongwe van die Bloemfonteinse honde-eenheid gehelp om die horings in kaste en ’n sak in die plaashuis te kry.
Boesman is ’n skaaphondreun. Hy het in 2009 die eerste Polisiehond in die Vrystaat geword om in ondersoeke na misdade rakende bedreigde spesies te help.
Bron: Volksblad