‘n Groep van vyf mans het die afgelope twee weke vermoedelik drie plaasaanvalle in die distrik Graskop uitgevoer. Mnr. Arnold Spies, ’n boer van die omgewing, sê in die jongste voorval is ’n bejaarde vrou van amper 80 op sy buurman se plaas aangerand en met wapens aangehou.
Die vrou, wat van ’n loopring afhanklik is, woon in ’n aparte huis saam met haar dogter en skoonseun op die plaas. Sy is deur die mans oorval en in haar kamer aangehou terwyl die groep wapens en geld by haar geëis het.
Haar skoonseun het die mans in die huis sien beweeg en hom daarheen gehaas. Met sy aankoms by die huis het die groep uitgestorm en vier skote in sy rigting gevuur, maar hy is nie raakgeskiet nie. Die groep het toe op die vlug geslaan.
Weggetrek van plase af
Intussen het die twee egpare, wat tydens die ander twee voorvalle ook slagoffers van vyf aanvallers was, van hul plase af weggetrek. ’n Koffieboer wat tussen Sabie en Hazyview boer en sy vrou was die eerste slagoffers van die reeks aanvalle. Hulle is aangerand en met wapens aangehou vir geld en nog wapens.
Tydens die tweede voorval is ’n boer en sy vrou wat op die “Pebbels”-pad bly, aangeval en die boer is in die skouer geskiet. Albei egpare was só getraumatiseer dat hulle reeds na hul naaste dorpe verhuis het.
Trae hulp
Spies sê hulle is baie bekommerd oor die trae hulp wat hulle in sommige gevalle van die polisie ontvang. Hy sê die polisiekantoor op Hazyview se nommer werk nie, en wanneer hulle die noodnommer van die polisie skakel, kos dit hulle amper ’n uur en ’n half om tot by die plaas te kom.
Landbou.com het self die nommer van die polisiekantoor probeer skakel. Daar word slegs gesê die nommer het verander, maar die nuwe nommer is nog nie beskikbaar nie.
Volgens Spies leef hulle in vrees oor waar die groep volgende mag toeslaan. Die mans is glo in donker kakiekleurige uniforms geklee en is met outomatiese gewere gewapen. Spies waarsku boere in die omgewing om paraat te wees.
19 April 2011