
Vrystaat Landbou sê in 'n nuusverklaring hy het met groot skok en afgryse verneem van die drie moorde wat Donderdag, 20 April 2017, op plase in die Wepener en Ladybrand distrikte gepleeg is.
Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar is mnr. Piet van den Berg en ’n werker van die plaas Pharoosfontein in die Wepener-distrik, asook mnr. Dirk du Randt van die plaas Elim, wreed in twee afsonderlike voorvalle vermoor. In beide voorvalle word meer as een verdagte gesoek, met die vermoede wat bestaan dat tot vyf verdagtes betrokke kon wees in die aanval op Van den Berg.
Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, sê dit is skrikwekkend om deur middel van dié voorvalle te sien hoe min ’n mens se lewe werd is. “Dit is duidelik dat hierdie misdadigers geen respek vir lewe het nie, en ons keer die dade ten sterkste af.”
Kontak met jou bure
Mnr. Henk Vermeulen, hoof-uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou, sê dit is weer eens bewys dat inskakeling by plaaslike veiligheidstelsels en gereelde kontak met bure belangrike faktore is vir landbouers, hul gesinne en werkers. “Maak seker dat jy uitreik na jou gemeenskap, en deel vorm van stelsels, sodat jy weet wat om tydens ’n krisis te doen en wie om te kontak.”
’n Versoek is weer eens aan landbouers gerig om paraat te wees vir verdagte persone in hulle omgewing, sodat hulle hulle bure, plaaswagte en veiligheidstelsels in kennis kan stel.
Volgens die lessenaar se statistiek is een plaasmoord verlede jaar in die Vrystaat aangeteken.