Drie stropers is die afgelope naweek (6 Februarie) in die Nasionale Kruger-wildtuin doodgeskiet ná ‘n onderonsie met wildbewaarders, aldus Sanparke.
Luidens ‘n verklaring sê dr. David Mabunda, die hoof uitvoerende beampte van Sanparke, wildbewaarders het Sondag op ‘n groep van vyf stropers in die wildtuin afgekom.
Die wildbewaarders het die groep in die Stolsnek-omgewing in die wildtuin gekonfronteer.Die groep wou op die vlug slaan, en drie van hulle is doodgeskiet, terwyl ‘n vierde gewond is en ‘n vyfde weggekom het.
Dié verdagte word tans gesoek. Volgens me. Wanda Mkutshulwa, Sanparke se hoof van kommunikasie, is nog geen karkasse van renosters of ander diere gevind wat moontlik deur die groep doodgemaak is nie.
38 arrestasies in 2011
Mkutshulwa sê tot dusver is 38 stropers al die jaar in die land aangekeer. Sewentien van dié stropers is in die Nasionale Kruger-wildtuin vasgetrek. Op dié toneel is ‘n militêre wapen, ammunisie en verskeie ander implemente wat tradisioneel deur stropers gebruik word, gevind.
Tydens ‘n voorval vroeg in Januarie die jaar het vyf ander verdagtes hulle rieme styfgeloop toe ‘n skietery tussen hulle en wildbewaarders in die Nasionale Kruger-wildtuin uitgebreek het. Dié vyf is op die toneel doodgeskiet. Meer as 20 renosters is reeds die jaar in Suid-Afrika deur stropers gedood.
7 Januarie 2011