
Drie mans verskyn vandag in die landdroshof op Leslie in verband met ’n plaasroof Woensdagoggend tussen Leandra en Kinross in Mpumalanga.
Luidens ’n polisieverklaring het drie mans die oggend by die plaas opgedaag onder die voorwendsel dat hulle vee wou koop. Nadat hulle toegang tot die perseel gekry het, het hulle die plaaseienaar, ’n sestigjarige vrou, oorrompel en saam met haar helper gyselaar gehou.
Die helper het daarin geslaag om te ontsnap, maar die boer was nie so gelukkig nie. Sy is aangerand en met ’n skerp voorwerp in die been gesteek.
Die aanvallers het onder meer kontant, ’n windbuks, gereedskap en sleutels gebuit voordat hulle van die toneel gevlug het.
Die polisie het saam met plaaslike boere gewerk om die gebied te fynkam en twee van die drie verdagtes is kort nadat die saak om 09:00 aangemeld is langs die N17-snelweg in hegtenis geneem. ’n Derde verdagte is kort daarna by ’n ander plaas daar naby in hegtenis geneem.
Die gesteelde goedere is in hul besit gekry en hulle word aangekla vir die besit van gesteelde eiendom. Volgens die polisie se verklaring sal hulle moontlik ook met die roof verbind kan word.
Volgens brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, is daar ’n moontlikheid dat die drie met ander misdade verbind kan word.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het haar waardering vir die goeie samewerking tussen die polisie en die gemeenskap uitgespreek en gesê dit blyk die gewenste resultate in die stryd teen misdaad op te lewer.