
Wisselvallige neerslae het die afgelope twee weke plek-plek die midsomerdroogte verlig, maar in groot dele van die somerreënstreek is alle oë nog op die hemele.
In veral die sentrale en oostelike gebiede het sake nou kritiek geraak. Hoewel gewasse teen 28 Januarie nog in die algemeen in ’n relatief goeie toestand was, sal die vroeër aanplantings nou begin skade ly as voorspelde neerslae nie 'n werklikheid word nie.
Daar was tot dusver groot wisselvalligheid in neerslae binne elke streek, het Graan SA in sy gereelde markverslag benadruk.
Geen reën was teen toe nog vir die westelike dele van die land voorspel nie, waar die witmielie-oes hoofsaaklik geproduseer word. Dit kan dus verwag word dat witmieliepryse heelwat sterker as geelmieliepryse behoort te wees, lui die markverslag.
Op plekke, soos by Bultfontein, het hael gesaaides getref, maar dié skade was nie wydverspreid nie.
Intussen oorheers die weer-faktor toenemend op die plaaslike graanmarkte. Enige aanduidings van neerslae of skade kan pryse nou betekenisvol laat reageer – hetsy opwaarts (as dit sou reën) of afwaarts (as die droogte nie gebreek word nie).
Internasionaal is pryse weens oorvloedige voorrade, ’n rekord-sojaboonoes in Suid-Amerika, en ’n sterk dollar aan die daal.
Wat die ekstensiewe veegebiede betref, lyk weiveld besonder goed nadat die somer gunstig afgeskop het. Prof. Hennie Snyman, weidingkundige van die Vrystaatse Universiteit, sê die veld is van die mooiste in baie jare, met besonder baie jong saailinge wat nou opvolgreën nodig het.
* Mnr. Willem Pretorius van Madibogo, wat die foto van sy verdroogde grondbonelande op Facebook geplaas het, skryf: "As die droogte so moet aanhou, gaan hier groot ellende kom in die somersaaigebied, ons is almal reeds op ons knieë met 2013 se droogte en die swak pryse sedert 2010."
Graan SA beveel die voorspelling-webtuistes www.yr.no en www.wxmaps.org aan.