
Met die droogte en huidige stand van die ekonomie, behoort verkopers gelukkig te wees met die pryse wat tydens die sestiende Kirkwood-wildfeesveiling behaal is. Hoewel die omset 16% laer was as die R8,7 miljoen van verlede jaar, wys wildkenners daarop dat dit in ooreenstemming met veilingspryse in die res van die land is.
Mnr. Brandon Leer, die afslaer, sê baie boere wat die veiling bywoon moes nog onlangs wild weens die uitmergelende droogte verskuif. “Daar kan dus nie verwag word dat hulle in die omstandighede nog wild moet inkoop nie. Dit is nietemin bemoedigend dat meer as 80% van die wild wat aangebied is teen markverwante pryse verkoop is. Die meeste kopers was van die Oos-Kaap.”
Addobuffels
’n Rekordgetal van 61 Addobuffels is aangebied met ’n beste prys van R130 000 vir ’n koei. Die 50 Kaapse Bergsebras op die katalogus, is teen gemiddeld R20 000 van die hand gesit. Die hoogste prys vir ’n koedoebul met ’n horingspan van 52 duim was R38 000 terwyl twee renosters onderskeidelik R110 000 en R130 000 behaal het.
Leer meen ondanks die feit dat die prys van baie wildspesies die afgelope drie jaar halveer het, die bedryf inherent gesond is. “Diegene wat so vier jaar gelede met mening tot die wildbedryf toegetree het en uitspattige pryse betaal het, het óf baie geld gemaak óf is nie meer in die bedryf nie. Dié met ’n passie vir wildboerdery besef dat dit jare neem om ’n goeie opbrengs op hulle belegging te verdien. Hulle is ook die mense wat die bedryf op ’n gesonde grondslag sal hou.”
Gedemp
Mnr. Johan Swart, die organiseerder van die wildfeesveiling, sê verkopers is vooraf gemaan dat die mark weens die droogte gedemp sal wees. “Gelukkig het die boom nie uit die mark geval nie en is ons heeltemal tevrede met die resultate.”
Mnr. Neil Dodds, voorsitter van die Oos-Kaapse Wildbestuurvereniging, sê hy is gelukkig met die belangstelling vir die 130 lotte wat onder die hamer gekom het. “Vlaktewild en die boma-lotte is feitlik alles van die hand gesit. Hoewel ek ’n ietwat beter prys vir die buffelbulle verwag het, was dit verblydend om te sien daar is steeds belangstelling vir eksotiese kleure wild, soos die Goue Wildebees wat teen R35 000 verkoop is.”
Dodds meen as so ’n suksesvolle veiling in die moeilike omstandighede kon plaasvind daar ’n groot oplewing te wagte kan wees sou dit goed kom reën en die veld herstel.