
Terwyl die droogte in Gauteng in so 'n mate gebreek is dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) die opheffing van waterbeperkings aangekondig het, raak die waterskaarste in die Wes-Kaap so kritiek dat slegs 28,4% van die waterkapasiteit in dié provinsie beskikbaar is.
Volgens 'n DWS-verklaring is waterbeperkings in Gauteng opgehef na aanleiding van goeie reën wat gesamentlike damvlakke tot op 95,9% gebring het.
Die opheffing is onmiddellik van krag en geld vir munisipaliteite wat water vanaf Rand Water kry, sowel as kleiner dorpe soos Potchefstroom en Standerton wat water van die Vaalrivier- en Usutu-watersisteme kry.
Wes-Kaap sukkel
Intussen is die Wes-Kaap steeds in 'n benarde situasie, met damvlakke wat week na week daal.
Mnr. Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê hoewel die provinsiale regering bekommerd is oor die situasie en goeie waterbestuur probeer toepas, hulle egter optimisties is dat water beskikbaar sal wees tot die winterreënvalseisoen in die Wes-Kaap aanbreek.
Die damstelsel wat die Wes-Kaap van water verskaf staan tans op 28,4%, teenoor verlede week se 29,96%. Dit het verlede jaar hierdie tyd op 36,79% gestaan.