
Kommer dat ’n verkeerde boodskap aan beleggers gestuur sal word, is die rede waarom Gauteng nie tot ’n droogterampgebied verklaar is nie.
Hierdie onthulling, oor die enigste provinsie in die land wat nie tot ’n droogterampgebied verklaar is nie, is deur die me. Thandeka Mbassa, hoof van die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling, by die Parlement gemaak.
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, het op ’n vergadering van die portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, gevra waarom dié provinsie nie ’n droogteramp verklaar het nie.
Tekort aan wetenskaplike bewyse
Die Regering hou die afgelope tyd ’n tekort aan wetenskaplike bewyse voor as rede waarom ’n nasionale droogteramp nog nie afgekondig is nie. Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het vroeër vanjaar hierdie verduideliking van die Regering gestaaf deur te sê dat alle provinsies in die land nie rampdroogtes ervaar nie.
“Daar was gesprekke en bekommernis oor watter boodskap aan beleggers gestuur sal word indien Gauteng, wat die ekonomiese middelpunt van die land is, tot ’n rampdroogtegebied verklaar word.
“Maar in ’n later stadium het die leierskap gedink dat ons in elke geval die verklaring moet doen, maar toe was dit ietwat laat,” het Mbassa gesê.
Sy het aangedui dat hulle die droogtesituasie monitor en dat ’n rampverklaring nie heeltemal uitgesluit is nie siende dat die impak van die droogte duidelik sigbaar is en dit ook ’n langsame impak het.