
Landboutoestande in veral die westelike deel van die Noord-Kaap is haglik, sê mnr. Henning Myburgh, hoof uitvoerende beampte van Agri Noord-Kaap.
“Die hele Namakwaland en Boesmanland is in November 2015 rampgebiede verklaar, maar ons moet nou weer deur die hele proses gaan om dit te laat herverklaar.” Volgens hom is die druk op die besproeiingsgebiede van die Noord-Kaap verlig noudat damvlakke hoër is, terwyl sekere dele van distrikte aan die oostekant van die provinsie goeie somerreën gekry het.
Myburgh sê daar is lusern en mielies beskikbaar om te koop, maar dis duur en duur om te vervoer, en baie boere se kredietfasiliteite is uitgeput. Boere het eenmalige droogtehulp van 50 sakke voer elk gekry, maar in huidige omstandighede is dit ’n druppel aan die emmer.
“Die nagevolge van die droogte gaan nog ’n lang ruk met ons wees. In die gebiede waar dit gereën het, is boere besig om hul kuddes en fondse weer op te bou.” Hy sê veegetalle in die provinsie is drasties verminder, aan die een kant omdat boere vee met ’n derde moet verminder om vir droogtehulp in aanmerking te kom, maar ook vanweë vrektes en as ’n oorlewingstrategie. Volgens hom is daar boere wat omtrent hul hele kudde verloor het.