
Hy is is sprakeloos oor die skade wat sy maatskappy weens die huidige droogte in KwaZulu-Natal gaan lei, aldus mnr. Clive van der Spuy, besturende direkteur van landbou by The Umhlatuzi Sugar Valley Company naby Richardsbaai in die noorde van KwaZulu-Natal,
“Ons het van September tot Desember 2014 net 187 mm reën gehad. Die gemiddelde reënval vir hierdie tydperk sedert 1924 is 647 mm,” sê hy.
Hierdie droogte kom nadat droogte in 2014 reeds erge skade in die suikerbedryf veroorsaak het. Die Umhlatuzi-vallei het slegs 42% van sy gemiddelde reënval in die 2014/'15-seisoen gekry. Volgens Van der Spuy het die Umhlatuzi-waterraad besproeiingsboere nou beperk tot 50% van hul normale watergebruik.
“Ons sal weer in Mei met die raad vergader om die situasie te bespreek, maar ons gaan reeds verliese van 7% op ons besproeide suikerriet opdoen weens die laer reënval. Die beperkings sal verdere verliese veroorsaak. Kommersiële boere se situasie is egter steeds beter as die klein- en bestaansboere in die omgewing. Hul diere begin vrek van honger en dors,” sê Van der Spuy.
Volgens mnr. Chris Fitz-Gerald, woordvoerder van Illovo Suid-Afrika, gaan Illovo sowat een miljoen ton minder suikerriet ontvang. “Dit is 18% van ons totale voorsiening en ’n enorme ramp,” sê hy.
Illovo is nou genoop om hul mees suidelike suikermeule, die Umzimkulu-meule naby Port Shepstone aan die suidkus, tydelik vir aflewering sluit. In 2011 is Illovo ook deur die droogte geforseer om die suikermeule te sluit.
Dr. Peter Ardington, 67-jarige ’n veearts en beesboer van Mandini aan die KwaZulu-Natalse Noordkus, se boorgat op die plaas het vir slegs die tweede maal in sy leeftyd opgedroog. “Dit is regtig tragies om die wêreld hier so droog te sien. Ek verkoop nou ’n groot deel van my kudde om seker te maak my diere en weiding oorleef die winter,” vertel hy.
Dr. Merron Galliers, ’n 70-jarige veeboer en veearts van die Kokstad-omgewing, meen dit is die ergste droogte wat hy beleef het. “Ons het ’n droë somer in 2013/'14 gehad, geen sneeu in die winter van 2014 nie en nou is die reën weer skaars. Hier op my werf is stok-ou bloekombome wat nou vrek.”