
Die droogte in die somerreëngebied is gebreek! Só reken mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.
Van den Berg sê in 'n weerverslag dat die oorvloedigë reenval wat sedert die begin van die jaar oor die somerreëngebied uitgesak het, het grondvogtoestande tot so 'n mate verbeter dat somergraangewasse op meeste plekke selfs sonder verdere reën suksesvol volwassenheid sal kan haal.
Volgens die Oesskattingskomitee se nuutste skatting kan rekordoeste moontlik verwag word.
Intussen het weidingstoestande ook baie verbeter, met sommige boere wat rapporteer dat weiding in rekordtyd herstel het. Die harde en deurdringende reën wat wyd geval het, het ook tot 'n mate van herstel in damme se vlakke gelei.
Volgens die nuutste syfers van die Departement van Waterwese en Sanitasie het die Vaaldam binne 'n week van 64,8% tot 100% en die Gariepdam van 69,8% tot 92% gegaan. Die Bloemhofdam het 'n allemintige sprong van 46,9% tot 93,8 geneem.
Maar...
Hoewel die nuus hoofsaaklik goed is, sal die langtermyneffekte van die droogte vir nog 'n geruime tyd bespeurbaar wees.
Van den Berg sê ondergrondse water sal tyd neem om te herstel en die finansiële impak van die droogte sal nog lank gevoel word.
"Baie boere het vir meer as 'n jaar swak oeste gehad of moes vee verminder teen lae pryse. Alhoewel die prys van vee gestyg het, is die aanbod laag en het boere nie vee om te verkoop nie."
Van den Berg waarsku ook dat nat toestande en baie vrywater tot veesiektes en ander plae kan lei. Landbou.com het onlangs berig dat uitbreking van knopvel- en drie-dae-stywesiekte, bloutong, Afrika- en Asiatiese rooiwater, hartwater en anaplasmose (galsiekte) reeds aangemeld is.
Hy voorspel ook 'n ondergemiddelde reënseisoen vir die Wes-Kaap, wat steeds gebuk gaan onder 'n erge droogte. Die droogte in dié provinsie kan dus vererger oor die volgende maande. Die Wes-Kaapse damstelsel staan tans op 'n skamele 32,4% met die Theewaterskloofdam, die grootste dam in dié provinsie, tans op 27,6%.