
Terwyl Kwanalu voorbereidings tref om aansoek te doen vir droogtehulp, begin boere mekaar die stryd aansê oor die bietjie water wat in riviere oor is.
Só verduidelik mnr. Mike Black, voorsitter van Kwanalu. As na weer-kenners se voorspellings gekyk word, dan lyk dit nie asof daar veel langer water in die riviere van KwaZulu-Natal gaan oorbly nie, meen hy.
“Ons bevind onsself in ’n desperate situasie. Sommige groenteboere gaan reeds gebukkend onder waterbeperkings en die langtermyn-voorspelling beloof maar ’n droë somer tot einde Desember,” sê Black.
In sommige tradisionele bestaansboer-gebiede, waar geen wafferse voorbereiding vir die winter gemaak word nie, het al talle veevrektes plaasgevind. “By Baynesfield en Estcourt en die ganse noorde van die provinsie het verlede week tussen 5 mm en 15 mm reën gehad. Dit is nie naastenby genoeg nie. In Dundee en Newcastle is 35 mm en meer gemeet, maar selfs dít is nog nie gelykstaande aan die gemiddelde reënval díe tyd van die jaar nie.
“Oor ’n week moet mielieboere begin plant en die wêreld is nog droog en vol stof. Sommige melkboere voer nou kuilvoer wat vir volgende jaar bedoel is omdat daar nie kos op die weidings is nie. Hoewel sommige areas nog ’n effense buffer het en van week tot week probeer deurkom, is ander gebiede reeds in ’n krisis,” sê Black.
Volgens me. Sandy la Marque, hoof uitvoerende beampte, is Kwanalu reeds in gesprek met verskillende regeringsagentskappe om die aansoekproses vir rampverligting en bystand in plek te kry.
Canegrowers, die vereniging vir suikerrietkwekers, is baie bekommerd. “Sedert Februarie 2014 het meeste droëland produksiegebiede slegs 40% van die normale reënval gehad,” sê me. Jayne Ferguson, kommunikasiebestuurder van Canegrowers.
“Die probleem het reeds in Februarie begin toe bykans geen laat-somerreën geval het nie. Dit beïnvloed die produksie van die volgende seisoen. Daarbenewens het reën nog nie hierdie somer uitgesak nie, wat ’n verdere produksieverlies veroorsaak, maar ook hergroei van geoeste suikerriet baie benadeel. Boonop is suikerriet wat onder droogte-stres is, meer vatbaar vir peste en plae,” verduidelik Ferguson.