
“Dit is net moed en geloof wat produsente van subtropiese gewasse en sitrus nog aan die gang hou,” sê Agri Limpopo se uitvoerende hoof, mnr. Willem van Jaarsveld.
Sy eweknie in Mpumalanga, mnr. Robert Davel, bevestig dat produsente van boomgewasse een van hul moeilikste seisoene nog trotseer. “Die meeste boere in die Onderberg (Malelane-omgewing) en die Laeveld staan nou al op tussen 12% en 15% van hul waterkwotas,” sê hy.
Hy sê die boere oorleef nog, maar hy is bekommerd dat hulle veral avokadobome se loof gaan begin afsny en stamme wit gaan verf in ’n poging om bome deur die droogte te kry. Hy verduidelik dat dit meer sin maak om een jaar se oes op te offer as om ’n hele boord te verloor.
“Dit neem omtrent twee jaar om plantmateriaal te kry as mens nou avoboompies bestel, dan nog vyf jaar voor daardie boompies winsgewend begin dra, boere maak dus nou somme om die korttermyn te oorleef.” Mnr. Pieter Vorster van die Mahela-boerdery in Limpopo sê hulle het ook al van hul sitrusbome afgesaag en wit geverf. “Mens maak maar die fabriek kleiner sodat jy minder water nodig het,” verduidelik hy.
Mahela is een van die boerderye wat ook erge windskade by Orighstad opgedoen het. Vorster sê dit is veral nette wat deur die wind beskadig is. Oor hul mango- en sitrusboorde in die Hoedspruit-omgewing is hy baie bekommerd. “Die Blyderivier is die laagste wat dit nog ooit was. Ons suigpype staan vir die laaste paar dae bokant die watervlak,”sê hy.
Vorster sê die suurlemoen-oes het aanvanklik baie goed gelyk, maar die afgelope weke het die bome duisende albastergrootte vruggies laat val. Die oeste op lemoene en pomelo’s lyk egter nog belowend. “Ek glo dit wat aan die bome sit sal hou, maar ons het dringend reën nodig in die opvanggebiede van die Blyde-, Tzaneen- en Ebenezer-damme om die oes groot te maak.”
Davel sê vir Mpumalanga se boere moet dit op die hoëveld en middelveld reën. “Dit gaan baie reën verg om die damme waaruit ons sitrusboere en subtropiese produsente besproei vol te kry. Daar is baie damme stroomop wat leeg staan.”
Davel sê boere is egter nog vol moed. “Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens lyk dit vir ons of Desember, Januarie en Februarie bogemiddelde reënval kan kry. Die uitdaging is dus om November te oorleef en hopelik kry ons dit reg met gereelde klein reën buitjies.
“Ons hou maar aan glo die goeie reëns is op pad. Soos Oom Oubaas Malan gesê het, ‘dis hoekom ons boer’ ”. Vir party boere sal die reën egter te laat wees. Teen verlede week het makadamia-produsente in die Levubu-omgewing nog geen reën gehad nie en neute val in hul duisende van die bome af. Me. Lindi Botha van Valley Macadamias sê dié maatskappy het sy oesskatting uit Levubu vir 2017 aangepas van 16 000 ton tot 3 000 ton.
Van Jaarsveld sê die groot verskil tussen boere en ander sakelui, is dat ander besighede afskaal en mense afdank in sulke moeilike tye. “Ons staan verstom oor die manier waarop ons lede hul arbeid aanhou en volle lone betaal, selfs wanneer daar geen inkomste is nie. Hulle bring hul kant darem wragtig op ‘n mooi manier,” sê hy.