
Tot soveel as die helfte van die wild wat in die Oos-Kaap aangetref word, het weens die ergste droogte in 100 jaar gevrek, sê mnr. Johan (Stappie) Staphorst, die hoofuitvoerende beampte van die Oos-Kaap wildbestuursverenging (ECGMA).
Staphorst sê ofskoon daar nie amptelike statistiek is nie, lede van die organisasie ernstige wildverliese aanmeld. “Die wildboere wat die ergste geraak is, is die wat ekstensief daarmee boer. Alle spesies insluitend koedoes, springbokke, gemsbokke, blouwildebeeste en selfs rooibokke het gevrek.”
Volgens hom is wildboere wat intensief boer, tot ’n minder mate geraak aangesien hulle as voorsorgmaatreël die wild kon voer. Die westelike dele van die provinsie vanaf Uitenhage tot by Willowmore is die ergste geraak. Geen koedoes sal in die komende seisoen in die Steytlerville-distrik gejag mag word nie.
Te min reën vir goeie veld
Staphorst sê hoewel daar sporadiese reënneerslae was, was dit te min om die veld voldoende kans op herstel te gee. “As deel van hulle bestuurstrategie het sommige van ons lede hulle wild verminder. Ander was egter nie so gelukkig nie en beide hulle Angoras en wild het grootskaals gevrek.”
Met die jagseisoen in die Oos-Kaap wat van 1 Junie tot 31 Augustus strek (in sommige distrikte in die provinsie strek die seisoen net van 1 Junie tot 31 Julie) meen Staphorst dat daar minder jaggeleenthede vir die plaaslike biltongjagters sal wees.
“Met die goeie reën in ander dele van die land sal die jagters waarskynlik nuwe weivelde gaan opsoek. Sou dit goed kom reën, kan dit tot twee seisoene neem voordat wildgetalle in die provinsie styg. Ek wil glo dat waar die natuur ’n manier het om die swakste uit te dun, ’n troos vir die boere wat deur die droogte geraak is, dat hulle darem nou met die beste genetika sit.”