
Trekkerverkope van 555 eenhede in Januarie is 12,2% minder as die 632 eenhede wat verlede Januarie aangemeld is.
Die ses stropereenhede wat in Januarie verkoop is, verteenwoordig ?n skerp daling vergeleke met die 22 eenhede wat verlede Januarie verkoop is.
Mnr. Wynn Dedwith, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasies, sê reën het oor die afgelope paar weke net kol-kol geval en in sekere dele, veral in die westelike dele, het die opvolgreën wat só nodig was vir mielies om volle potensiaal te ontwikkel, nie geval nie.
Ramings vir die huidige mielie-oes is dus laer aangepas om voorsiening te maak vir die ongunstige weersomstandighede. Dit word weerspieël in die mielieprys wat die afgelope twee weke besonder skerp gestyg het.
Boere vertraag op die oomblik hul aankope van landboumasjinerie, minstens totdat hulle 'n duideliker beeld het van oesvooruitsigte. Volgens ramings in die bedryf sal die mark vir landboutrekkers in 2015 tussen 5% en 10% laer wees as vir 2014.