
Die landbou was steeds in die laaste kwartaal van verlede jaar in 'n resessie, maar die vooruitsigte vir vanjaar lyk goed. Só sê mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, oor Statistiek Suid-Afrika se jongste syfers oor Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).
Hiervolgens het die ekonomie as geheel in die laaste kwartaal van verlede jaar met 0,3% ingekrimp. Die spesifieke sektore wat ingekrimp het, was mynbou (-11,5%), vervaardiging (-3,1%) en die landbou (-0,1%).
Sihlobo sê hoewel sommige kommoditeite, soos wintergrane en steenvrugte, in dié kwartaal meer bedrywig was, was die sektor as geheel nog in 'n resessie. Die landbou het weens die droogte vir agt opeenvolgende kwartale ingekrimp.
Hele sektor loop deur
Die hele sektor is deur die droogte geknou, maar veral grane en oliesade, lewende hawe en pluimvee is swaar getref. Die 2016-somerproduksie van grane en oliesade was op 'n jaargrondslag 21% laer, terwyl 2015 s'n reeds ook 27% laer was.
Sihlobo sê hoewel die tuinbou- en wynbedrywe ook deur die droogte geraak is, het hul oorhoofse produksie en uitvoerbedrywighede nie so skerp soos dié van grane en oliesade geval nie.
Voorsigte lyk nou egter goed. Die totale produksie van somergrane en oliesade kan na verwagting 72% hoër as die vorige jaar s'n wees, met 'n verwagte styging van 79% in mielieproduksie.
Sihlobo sê die jongste Agbiz-IDC-indeks oor landbousakevertroue wys daar is groeiende optimisme in die sektor. “Ons glo die landbousektor sal vanjaar van die huidige middelmatige groeipad wegbeweeg,” sê hy.