
Wydverspreide reën oor die feesseisoen het vir baie boere verligting gebring, maar die swaar reën het terselfdertyd op plekke skade aangerig, daar is steeds 'n groot nood aan voer, en in sekere dele het dit min of glad nie gereën nie.
Die droogte is vir baie boere nog ver van “gebreek”. Mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê in die algemeen is landbouers en plaaswerkergemeenskappe opgewonde oor beter vooruitsigte.
Daar heers egter kommer oor onder meer die Wes-Vrystaat, wat min reën gekry het, en die Wes-Kaap, waar boere benewens deur die droogte ook deur wegholbrande beproef word. “Ons samel steeds geld in om dié gemeenskappe te help.”
Agri SA se strukture in die Vrystaat en Wes- en Noord-Kaap is aktief besig om voer te skuif. “Baie landbouers is bereid om voer te skenk, maar die vervoer van hulp bly 'n kopseer. Ons doen dus weer 'n beroep op vervoermaatskappye vir hulp.” Agri SA het tot dusver deur sy droogteramphulpfonds R17 miljoen se hulp aan boere gebring.
Die geld word aan provinsies toegewys, wat self besluit hoe hulle dit ten beste wil gebruik, soos om mieliereste te baal of voerpille te koop. Die fonds is egter nou uitgeput. “Die goeie reëns die afgelope tyd het 'n merkbare afname in skenkings teweeg gebring. Dit is te begrype, maar ons vra mense om droogterampfonds.co.za te besoek en geld te skenk.”
Agri SA beplan later vandeesmaand fondswerwing saam met RSG en wil die fonds deurlopend aanvul om boere te help wat erge droogte, oorstromings en brande ervaar.
KwaZulu-Natal
Me. Sandy La Marque, hoof uitvoerende beampte van Kwanalu, sê hulle het talle aanbiedings van hulp gekry. Kwanalu is besig met ’n peiling oor waar die nood die grootste is.
Dit blyk die noorde van die provinsie en die noordelike kusgebiede ervaar steeds ernstige droogte. “Die provinsie mag dalk groen lyk, maar daar is steeds gebiede wat droogte ervaar,” sê sy.
Noordwes
Mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die reën het wyd verligting gebring, maar ook skade waar te veel reën in ’n kort tyd uitgesak het. “In die omgewing van Mareetsane, waar tussen 60 mm en 90 mm binne 40 minute geval het, is daar boere wat weens die verspoelings sal moet oorplant.”
Daar is boere wat dit waag om mielies tot einde Januarie te plant, maar meestal plant hulle nou eerder sonneblom. Ander baie droë dele wat goeie reën gehad het, is Bray in die noorde (tussen 60 mm en 140 mm), Gemsbokvlakte, wes van Mafikeng (tussen 26 mm en 130mm) en Vorstershoop in die verre weste (tussen 32 mm en 100mm).
Du Toit sê die droogteskade aan natuurlike weiding was baie groot en dit sal etlike jare se intense weidingsbestuur verg om dit te herstel. Mnr. Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê boere is op skenkings van kerke, private organisasies en medeboere aangewese. “Dit gaan taamlik goed en vragte is afgelaai, maar die geld is skaars en die hulpbronne amper klaar.”
Wes-Kaap
Agri Wes-Kaap lewer steeds droogtehulp aan produsente in die Weskus-distrik en Sentraal-Karoo. “Danksy goeie graanoeste in die provinsie het baie ruvoer beskikbaar geraak en het Agri Wes-Kaap weer skenkings gekry waarmee ons produsente kan help,” sê me. Jeanne Boshoff, woordvoerder.
Die somerreëngebiede van die Karoo het tot nou baie min reën gehad. “Boere van Oudtshoorn is nou ook in die moeilikheid en produsente sny nie meer lusern nie omdat water nie beskikbaar is nie.”
Vrystaat
Talle boere in die oostelike en noordelike dele van die Vrystaat en Mpumalanga het Vrystaat Landbou in die feestyd genader om bale te skenk. Die organisasie het reeds al sy droogtehulpgeld aan vervoerkoste bestee. Landbouverenigings waar daar nood is, is in kontak gebring met diegene wat bale aangebied het, sê me. Alani Janeke, woordvoerder.
Vrystaat Landbou het sedert Desember 2015 meer as R3,5 miljoen se hulp aan boere beskikbaar gestel. Janeke sê groot nood vir veevoer heers in dele van die Suid- en Wes-Vrystaat. “Hoewel sommige dele van die Suid-Vrystaat, soos Fauresmith, tot 65 mm reën gemeet het, het dele van Rouxville in die Suidoos-Vrystaat slegs 16 mm gehad.”
- Geskryf deur Lisa Lottering, Carien Kruger en Nico Van Burick