Een van die ergste droogtes in 132 jaar in die George-distrik is gebreek en boere voel hulle kan weer asemhaal.
Mnr. Stephan Gericke, die voorsitter van die George-boerevereniging, sê ‘n gemiddeld van 200mm het in die distrik (van George en Knysna tot duskant van die berg by Riversdal) geval en op party plekke is selfs 230mm gemeet.
"Ons het baie goeie reën gehad van November af. Dit het baie mooi verspreid geval en die meeste boere se damme is vol. Van die ouens wat van afloopwater afhanklik is, kort nog so 30% in hulle damme”, vertel Gericke.
“Dit is net eenvoudig wonderlik! Ek het die velde en landerye wat nie besproei word nie, nog nooit so groen gesien nie”, merk hy opgewonde op. Landbou.com wag tans op foto’s van hoe die George-distrik nou lyk.Hou die webtuiste dié week daarvoor dop.
Nog droeë toestande
Intussen sê Agri Wes-Kaap die weerstoestande in Riversdal is baie droog en warm, en van Desember 2010 is ‘n gemiddelde reënval van 35mm gemeet. Die damme in die streek is wel 80% vol. In die Plettenbergbaai-distrik word steeds warm en bedompige dae ondervind.
Die meeste damme is halfvol, want hoewel dit gereën het, was dit meestal sag en het nie baie water in damme afgeloop nie. In Desember is 130mm se reën in die distrik gemeet, en vir Januarie staan die reënval op 41mm.
Kritieke gebiede
Volgens Gericke is die toestande in die Barrydale- en Van Wyksdorp-distrikte baie, baie droog en heers kritieke toestande oor ‘n groot distrik.
Agri Wes-Kaap sê Uniondale en Ladismith beleef erge droogtetoestande, en drinkwater in die Klein Karoo is verlede jaar reeds met sowat 50% gesny. Die damme in die Klein Karoo is bykans leeg, en die gemiddelde reënval vanaf Desember 2010 was 12mm.
Die twee grootste besproeiingsdamme, die Kammanassie- en Stompdriftdamme, is so te sê leeg. Die Raubenheimerdam, wat naby die Kongo-grotte lê, is nog 68% vol.
24 Januarie 2011