
Die rampdroogte in die Wes- Kaap kan die provinsie se waardevolle uitvoervrugtebedryf vir jare knel. As damme teen die einde van die huidige winterreëntyd nie op 85% staan nie, gaan vanjaar se krisis hom eenvoudig herhaal, waarsku bedryfsleiers.
“As die damme teen die einde van die reëntyd net 30% vol is, gaan ons volgende jaar ’n groter krisis hê as tans,” sê mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. “As die damme net 50% vol is, gaan die huidige krisis homself net herhaal. Dit is nodig dat die damvlakke teen die einde van die komende reëntyd op minstens 85% staan.”
Domino-effek
Hy sê die knou wat die droogte aan langtermyngewasse wat van water afhanklik is, kan toedien, gaan ’n domino-effek hê op belegging, werkskepping, voorsiening aan die waardeketting en ekonomiese groei.
Mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van die sagtevrugte-bedryfsliggaam Hortgro, sê die probleem kan nie alleen met perke op landbougebruik opgelos word nie.
Hy meen boere gaan al hoe meer hul watergebruik vir langtermyngewasse ’n voorrangsaak maak en korttermyngewasse, soos groente, sal uit ander dele van die land ingevoer word.
Winsgewendheid
Prof. Wiehann Steyn, gewasproduksiebestuurder by Hortgro, waarsku dat waar vrugtebome minder as 50% van die water kry wat hulle nodig het, raak winsgewende vrugteboerdery baie moeilik weens die progressiewe uitwerking op die bome.
“Omdat sagtevrugtebome immergroen gewasse is, het erge droogtestres ’n veel langer uitwerking as in die droogtetyd self. Gegewe dat die jaarlikse produksie van ’n appelboord rondom R150 000/ha is, kan boere wesenlike skuld aangaan in ’n erge droogtejaar, met verminderde vermoëns om dié skuld terug te betaal in daaropvolgende jare. Sagtevrugtebome kom eers in optimale produksie vyf tot ses jaar ná hulle geplant is,” sê hy.
Werksgeleenthede
Die droogte hou ook ’n beduidende gevaar in vir die 132 000 plaaswerkers en hul afhanklikes in wat in droogtegeteisterde sagtevrugteproduksiegebiede in die Wes- en die Oos-Kaap werk.
Opperman sê die provinsie gaan etlike jare se reën, sneeu en koue nodig hê om weer in ’n veilige waterposisie te kom.
“Die droogte is nie gebreek wanneer ’n dam vol is nie. Akwifere en grondwatervlakke is laag en moet eers aangevul word. Daarom het die Wes- en die Oos- Kaap etlike jare se reën, sneeu en koue nodig om terug te keer na ’n veilige situasie,” sê hy.