
Stewige en skielike stygings in die Suid-Afrikaanse mieliepryse illustreer hóé kritiek die droogte in die somersaaigebiede nou raak.
Oor groot dele, waar die seisoen enkele maande gelede op ’n hoë noot afgeskop het, is die bordjies letterlik binne twee weke verhang.
Op 4 Februarie was die naaste maand-kontrakprys vir wit mielies op Safex ’n volle 15% hoër as net ’n week gelede. Die kontrakprys vir witmielie-lewering in Julie het nie veel swakker gevaar nie: Dit was 13% hoër as ’n week gelede.
Die prys van geel mielies op die beurs se termynmark het in dieselfde tyd met tussen 10% en 7% gestyg.
’n Paar meestal ligte buie wat plek-plek oor Mpumalanga, Noordwes en die Wes-Vrystaat uitgesak het, was nie genoeg om in die gewasse se behoeftes te voorsien nie. En vooruitsigte tot ten minste Donderdag, 12 Februarie, lyk maar skraps en onvoldoende, sê mnr. Wessel Lemmer van Graan SA in sy gereelde markverslag. Veral boere in die westelike dele, waar die meeste wit mielies geproduseer word, is tot dusver nog deur die weervoorspelling teleurgestel.
Op 4 Februarie was daar geen reënvooruitsigte vir die sentrale produksiegebiede nie, terwyl voorspel is dat die aanliggende gebiede neerslae van net rondom 10 tot 15 mm kan verwag. Hoewel boere aan 'n midsomerdroogte gewoond is, is die verwagte reënval tot 12 Februarie nou onder die normaal vir dié tyd van die jaar, sê Lemmer.
Dit lyk darem asof meer wydverspreide reën dalk ná Donderdag (12 Februarie) kan begin val: Neerslae van tussen 20mm en 70mm saam met koeler temperature word voorspel.
Graan SA verwag nietemin dat die plaaslike mieliepryse kan aanhou styg. “Die mielieproduksiegebied is nou in ’n kritieke stadium waarin die oesgrootte ernstig beperk kan word deur ongunstige produksietoestande,” sê Lemmer.
Dr. Philip Theunissen, rekenmeester en boer van Bethlehem, sê toestande het binne twee weke drasties by hulle verander. “Goeie reën het net weggebly. Baie Oos-Vrystaatse boere se mielies is aan die vrek.” Hy het ook self gesien hoe mielies in die omgewing van Heilbron, Sasolburg en Potchefstroom erg swaarkry.
Die grootste skok was egter toe hy kliënte in die omgewing van Bothaville en Wesselsbron besoek het. Party boere daar vrees selfs dat goeie reën nou nie meer sal help nie. Sulke berigte word ook uit die omgewing van Villiers en Frankfort ontvang, sê Theunissen.