Waarskuwings oor ‘n tropiese sikloon wat die noordelike dele van KwaZulu-Natal Sondag, 4 Maart 2012, kon slaan, het groot dele van die provinsie op hulle tone gehou.
Me. Sandy la Marque, hoofbestuurder van KwaNalu, sê die swaar reën wat voorgekom het, het nie wyd voorgekom nie, en groot dele van die provinsie loop steeds onder ‘n erge droogte deur. “Een van ons lede sê in die 80 jaar se rekords van reën wat vir sy plaas aangeteken is, het die minste reën nog dié seisoen geval,” vertel La Marque.
Dundee en Utrecht
Volgens La Marque word die distrikte van Dundee en Uitrecht die ergste geraak. “Baie van die boere moes al hul kuddes kleiner maak omdat hulle nie genoeg weiding het om al hulle vee te voer nie.” Die grootste probleem wat ervaar word, is dat reën baie geïsoleerd voorkom.
Wat Sondag se reënval betref, sê La Marque die meeste reën het langs die kusgedeeltes voorgekom. “In Durban het ek 225 mm gemeet, terwyl kollegas in Pietermaritzburg 17mm gehad het. In Howick het minder as 10mm geval.”
Die storm is deur die loop van Sondag van ‘n sikloon na ‘n gemiddelde tropiese storm deur die Weerdiens afgegradeer.
Bron: News24.com
5 Maart 2012