
In Oktober 2014 is die totale suikerrietoes op 18 259 000 ton beraam en teen Desember het Canegrowers en die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) reeds hierdie skatting na 17 756 000 ton verlaag.
“Die droogte is nie ’n bedryfwye verskynsel nie. Die drie besproeiingsgebiede in die noorde van Suid-Afrika, wat nagenoeg 30% van die totale suikerriet in Suid-Afrika produseer, ervaar glad nie droogte nie. Dit is dele van die KwaZulu-Natalse suidkus, die Tugela-omgewing, Zululand en die noordkus wat erg gebuk gaan onder die droogte. Die kleiner oes in hierdie droogtegeteisterde gebiede sal ’n verlies in produksie-inkomste van R574 miljoen rand veroorsaak,” verduidelik Ferguson. Daarbenewens het Canegrowers se navorsers bepaal dat die herstelkoste aan landerye wat skade gely het in die droogte, nagenoeg R 274 miljoen sal kos.
Die verlaagde produksie sal ook ’n verlies aan werkgeleenthede met ’n waarde van tot R72 miljoen tot gevolg hê. “Ons is ook bekommerd oor die plase waar die kontantvloei reeds laag is. Die meule sluit tussen Desember en April, so suikerrietboere het geen inkomste nie en kontantvloei kom onder enorme druk,” verduidelik Ferguson.
Vir meeste van hierdie boere wat sukkel, is daar nie veel meer hoop vir die komende seisoen nie. “In ’n normale reënjaar sou die suikerriet wat in die komende seisoen geoes moes word, reeds 1 tot 2 meter lank gewees het. Geraakte boere berig dat hulle suikerriet maar 10cm of 20cm hoog staan. Alhoewel reën nou baie welkom is, gaan dit nie veel aan hierdie boere se lot verander nie.”
Die huidige droogte kan boere vir die volgende vyf jaar onder ernstige druk plaas, meen Ferguson. “Suikerriet word op ’n 10-jaar rotasie geplant, waarvan die eerste vyf jaar se inkomste bestee word om die vestigingskoste te delg. Baie van die boere wat na die droogte van 2010/’11 hul landerye moes herplant weens droogteskade, betaal steeds aan daardie vestigingskoste en staar nou die moontlikheid in die gesig dat hulle wéér geld sal moet leen om hierdie landerye te hervestig. Hulle sal dus vir die volgende vyf jaar weer net hulle skuld delg,” verduidelik Ferguson.