
Daadwerklike planne is in die Wes-Kaap nodig om sy ernstige waterprobleme op te los, gegewe die vooruitskouing dat die provinsie se inwoners oor die volgende 15 tot 20 jaar met tot twee miljoen mense sal vermeerder.
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering en omgewingsake, sê in 'n nuusverklaring hulle oorweeg verskeie opsies om watervoorrade te verbeter, terwyl hulp verleen word om die droogte se impak te beperk.
Dié hulp sluit in sowat R60 miljoen se voer aan die landboubedryf, R22 miljoen vir nuwe boorgate en die opgradering van verwante infrastruktuur en R34 miljoen se algemene droogtehulp. Damvlakke in die provinsie het reeds tot 35% gedaal, met etlike maande om te gaan voor die reënvalseisoen sal aanbreek.
Wat kan gedoen word?
Om vooruitsigte vir die provinsie se langtermyn-watervoorraad te verbeter, kan die Bergrivier-Voëlvlei-aanpassingskema gebruik word om surplus-winterwater in die Voëlvleidam op te vang, die ontwikkeling van die Tafelberg-grondwaterdraer bespoedig word en waterontsouting kan oorweeg word.
Volgens Bredell is ontsouting egter die laaste opsie, weens die hoë koste betrokke. Dié hoe koste maak ontsouting waarskynlik ook nie 'n goeie opsie vir gebruik vir landboudoeleindes nie.
Op hede is vyf munisipaliteite as plaaslike rampgebiede verklaar weens die droogte, terwyl dit oorweeg word terwyl nóg munisipaliteite vir dié status oorweeg word.
Die intense vlaag brande waaronder die Wes-Kaap vanjaar deurloop, bemoeilik waterbesparingspogings verder. Volgens Bredell hou die huidige brandseisoen 'n besondere groot uitdaging in.
"Tien jaar gelede het die Wes-Kaap sowat 12 000 brande in 'n jaar gehad. In die afgelope drie maande het ons sowat 17 000 brande op verskeie plekke in die provinsie gehad," sê Bredell.