
Die volgende ontleding van grondverkope in Suid-Afrika is van transaksies vir grond wat groter is as 20 ha in KwaZulu- Natal, Noordwes en Limpopo vanaf Julie 2015 tot Junie 2016.
Die prysneigings in KwaZulu-Natal en Limpopo is grootliks gunstig, terwyl die pryse in die helfte van die distrikte in Noordwes gedaal het – ’n duidelike impak van die droogte.
In KwaZulu-Natal is 314 ooreenkomste in 15 distrikte gesluit. Altesame 90 665 ha is teen R2,062 miljard verhandel. Uit die verkope was 106 (34%) transaksies van kleur, wat 41 577 ha (45,8%) verteenwoordig teen R957 miljoen, 46,4% van die totale waarde. Die meeste transaksies 112 (36%) was vir grond kleiner as 50 ha.
In Noordwes
In Noordwes is 625 transaksies in 12 distrikte voltrek. Altesame 256 401 ha is teen R4,132 miljard verhandel. Daarvan was 106 ooreenkomste van kleur, wat 62 495 ha behels teen R714 miljoen.
Sowat ’n derde van die transaksies was vir grond kleiner as 50 ha. In totaal was 214 (34%) van die transaksies vir meer as 300 ha.
In die distrik van Reivilo is agt transaksies van 5 098 ha die afgelope jaar afgehandel. Die gemiddelde prys in dié distrik was R28 195/ha.
In Limpopo
In Limpopo is 548 ooreenkomste in 15 distrikte gesluit en altesame 215 326 ha is teen R2,863 miljard verhandel. Daarvan was 92 (16,8%) transaksies van kleur wat 36 533 ha of 17% teen R457 miljoen behels het. Altesame 200 (36%) verkope was vir grond groter as 300 ha.
In Soekmekaar is 44 transaksies beklink, wat 9 724 ha behels. Grondpryse het die afgelope jaar in dié distrik met 21,1% gestyg.
Lees die verskillende afdelings van die ontledings van Plaasverkope op Landbou.com hier:
* Statistiek oor die verhandeling van landbougrond per distrik binne 'n provinsie vir die afgelope 12 maande.
* Opsomming: Meer besonderhede oor plaasverkope binne 'n distrik vir die afgelope 12 maande.
* Verspreiding bevat besonderhede oor die randwaarde per hektaar van transaksies in elke distrik van Suid-Afrika.
* Johann Bornman is 'n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions.