
Ondanks die afgelope paar maande se ruim reënval in groot dele van Suid-Afrika gaan boere van die Oos-Kaap steeds onder droogte gebuk. Met die samewerking van Santam beoog die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) nou om boorgate vir sowat 24 boere by Willowmore te sink om te verseker dat boere water het wanneer die reën weer wegbly, sê Saai in ’n verklaring.
“Niemand weet wanneer die reën weer gaan kom nie, en intussen moet mens alles in jou vermoë doen om te keer dat hierdie boere ondergaan,” sê me. Iné Bester, bedryfsbestuurder by Saai, luidens ’n verklaring. Die organisasie het deurentyd kos en voer in die provinsie afgelewer.
Die inisiatief het sedert Mei vanjaar sowat 36 boorgate in die Steytlerville-omgewing gesink, waarvan 23 water lewer.
Vir mnr. Colin Wilken, ’n boer van Steytlerville, was dit ’n groot verligting toe Saai en Santam boere in die omgewing gehelp het om water aan te wys en die boorgate te sink. “Water was nog nooit ’n probleem op my plaas nie. Maar die afgelope jaar het die watertafel merkbaar gesak en sommige gate het heeltemal opgedroog,” sê Wilken.
Volgens me. Hanlie Kroese van Santam kom die maatskappy sy verantwoordelikheid na om te help bou aan ’n volhoubare landbousektor. “Santam wil ’n verantwoordelike onderneming wees en meer as net versekering bied.”