
Die toelaag van R381 miljoen vir rampbestuur is hopeloos te min, daarom het die Departement van Plaaslike Regering en Tradisionele Sake dit nie vir droogtehulp benut nie.
Dít is die skokkende verduideliking wat parlementslede by ’n gesamentlike sitting van verskeie departement rakende droogtehulp wat verleen is, moes hoor. Die Tesourie het vir die 2016/’17-geldjaar, wat einde vandeesmaand eindig, altesaam R270 miljoen vir munisipale rampe en R111 miljoen vir provinsies begroot.
Dr. Mmaphaka Tau, hoof van rampbestuur in die land, het gesê “geen geld is van die noodfonds aangewend nie want die bedrae is nie voldoende nie. Dit kon nie die verlangde koste dek nie.” Die Nasionale Rampbestuursentrum val onder die Departement van Plaaslike Regering en Tradisionele Sake.
Parlementslede spoeg vuur
Dit het parlementslede vuur laat spoeg dat die “miljoene te min is om te bestee” terwyl mense van dors omgekom en miljoene diere in een van die ergste droogtes nog gevrek het. Daar was sover gegaan om die departement daarvan te beskuldig dat hy probeer om LP’s vir die gek te hou.
Tau het voorts verduidelik. “Ons dui aan dat die noodtoelaag nie gebruik kon word nie omdat die bedrae klein is en daarom het ons geld geneem van die onvoorsiene en onvermydelike (uitgawes).
“Tans het ons R140 miljoen aangevra van die provinsiale rampfonds vir die windstorms wat by OR-Tambo plaasgevind het, om die situasie daar te hanteer.”
Antwoorde onaanvaarbaar
Me. Tarnia Baker, die DA se skaduminister vir water en sanitasie, wou luidkeels by Tau weet hoe die geld te min was om te bestee. “Ek word weer beledig. Ons sal die soort antwoorde wat ons van die departement kry ernstig moet aanspreek. Dit is onaanvaarbaar.”
Die Kantoor van die Tesourie het verduidelik dat wat die departement eintlik gedoen het, “was soos om honger te wees en jy kan nie ’n biefstuktoebroodjie bekostig nie, maar weier om die ham-en-kaastoebroodjie te koop”.
Die kantoor het ook bevestig dat geen geld sover uit die toelaag bestee is nie. Die departement het egter wel aangedui dat hy van plan is om voor die einde van die Maart, wanneer die boekjaar eindig, van die geld, moontlik op die herstel van sinkgate, te bestee.
Die komitee kon ook nie uit die voorleggings van die verskillende departemente ’n werklike prentjie kry van hoeveel werklik op ramphulp bestee is nie. Dit sluit in die Departement van Water en Sanitasie, die een vir landbou, bosbou en visserye, en die een vir landelike ontwikkeling en grondhervorming.
* Lees ook: Tyd reg vir slim ramp-plan - Agri SA