Dele van KwaZulu-Natal gaan as rampgebied verklaar word weens droogte, sê die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye. Me. Tina Joemat-Pettersson het gesê die besluit is tydens die ANC se kongres aan die einde van September geneem.
“Ons het tydens die kongres samesprekings gevoer en besluit om dié gebied as ‘n rampgebied te laat verklaar en dat vir droogtehulp aansoek gedoen moet word,” sê die minister. Sy verwag dat dié proses binnekort onderweg sal wees.
Intussen het mnr. Ernst Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap, die uitstaande beloofde droogte en vloedhulp van dié provinsie onder die Minister se aandag gebring. Dié gebeure het by die Agri SA-kongres plaasgevind.
Volgens Pringle het die provinsie in in 2007 reeds vir R90 miljoen se hulp aansoek gedoen nadat oorstromings groot skade in die provinsie aangerig het. “Met die droogte het ons verlede jaar ook vir R100 miljoen se hulp aansoek gedoen, maar slegs R20 miljoen gekry. Tot op datum is nog niks van een van dié bedrae aan ons uitbetaal nie.”
Die Minister sê die probleem met dié situasie is dat die hantering van geld vir vloede en en droogte by die provinsiale departement gesentreer is. “Ons probeer om dié beleid te verander, maar dit is ‘n lang proses.”
8 Oktober 2010