Al gaan dit in die algemeen goed met die landbou, begin tekens van ’n droogtesiklus al hoe meer in voorspellings na vore kom. Boere behoort hulle daarop voor te berei, waarsku mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa AgriBesigheid.
Janovsky het in ’n vooruitskouing op ’n inligtingsdag oor die groeistimulant Gliogrow buite Delmas gesê reënsiklusse strek gewoonlik oor sowat 18 jaar, waarvan nege jaar op en nege af is.
Draaipunt bereik
“Uit die voorkoms van sonvlekke en ander tekens lyk dit of daar ’n draaipunt bereik is en ’n droogtesiklus begin na vore kom. Ons sal versigtig moet wees en planne daarvoor begin beraam.”
Hy sê dit is nie noodwendig vanweë droogte dat sommige mielieboere nou in die moeilikheid is nie. Dit kan ook wees weens die boerderypraktyke wat hulle toegepas het.
“ ’n Mens sien dit nou baie. Twee plase langs mekaar waar die mielies op die een pragtig lyk met drie koppe aan elke plant en die plante op die plaas langsaan is klein en besig om te verdroog.
"Miskien is dit omdat op die een plaas 14 000 plante per hektaar geplant is en op die ander 9 000 per ha. Dalk is daar te groot eise aan die beskikbare grondvog gestel.”
Einde van die dekade
Janovsky voorspel dat die draaipunt van die droogtesiklus teen die einde van die dekade sal wees.
“Dit beteken egter nie dat daar in ’n droë siklus geen nat jare gaan wees nie. Dit beteken net julle moet aanpas en noukeurig aandag skenk aan oordraglande en vogbewaringstegnieke. Hou bewaringspraktyke in stand en begin kyk na tegnologieë soos die benutting van droogtegene.”
Hy waarsku dat produksiekoste gemiddeld 3% per jaar vinniger styg as produsentepryse. “In die volgende drie jaar kan daar nie veel staat gemaak word op hoër produkpryse om hierdie kosteknyptang teen te werk nie.
“Die enigste maniere sal wees om volume te verhoog en om oorhoofse koste te besnoei – hoofsaaklik deur skaalekonomie.” Hy glo boere sal op al hoe groter skaal boer en al hoe minder word.
“Ons sal al hoe meer murasies op die platteland sien. Maar grondwaardes styg ook met 10% tot 12% per jaar en die grond wat jy nie vanjaar bykoop nie, gaan oor drie jaar 30% duurder wees.”
Hy sê nogtans gaan dit goed met die landbou. Die skuldlasverhouding daal steeds en sowat 38 000 boere verdien sowat R42 miljard per jaar. Rofweg steek elke boer gemiddeld sowat R1 miljoen in sy sak.
11 Mei 2012