Verskeie boere het die afgelope tyd droogteskade aan hul mielie- en sojaboonoeste aangemeld, en weiding word ’n krisis.
Mnr. Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou, sê hulle vermoed dat talle boere groot skade gaan ly weens reën wat die seisoen baie kol-kol voorgekom het.
“In sommige dele het boere reën op die regte tyd gekry. Hul oeste lyk baie goed. Die besproeiingsboere se oeste lyk ook goed. Ander boere was minder gelukkig en ons verwag dat verreweg die meeste boere vanjaar gaan sukkel en dat baie ouens hulself in ’n moeilike posisie gaan bevind,” vertel Vermeulen.
Volgens Vermeulen het party boere vanjaar dubbele skade gehad met swak koring- en mielie-oeste. “Ons hou in dié stadium maar asem op.”
Eerste ryp
Vermeulen sê gebrekkige weiding en die komende winter sorg tans vir groot kommer. Hy sê in sekere dele het ryp reeds voorgekom en is die tyd verby vir boere om nog weiding te kan plant.
Volgens mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, het talle boere hul veekuddes in die afgelope jaar opgebou. Die voer wat hulle nou het, moet tussen ses en agt maande.
“Grasweiding is veral ’n krisis en met die hoë koste van voer is dit eenvoudig nie moontlik om voer sonder ’n verlies te koop nie. Dit lei daartoe dat groot getalle vee geslag word.”
Van den Berg sê die laaste reën wat vir die somer verwag word, kan veral boere in die westelike ekstensiewe weidingsgebied help om nog ’n laaste bietjie voer te plant.
Afgeskryf
Wat oesskade betref, sê Van den Berg sommige boere se oeste is reeds afgeskryf met geen oes wat gelewer gaan kan word nie. “Dit lyk wel of die meeste boere baie naby aan hul gewaarborgde oes gaan stroop.”
Sojaboon-oeste, wat vroeër groot potensiaal getoon het, is ver ondergemiddeld. Van den Berg sê hulle verwag dat talle boere skade gaan aanmeld.
27 Maart 2012