Droogtetoestande teister tans die oostelike dele van die land, wat veral sojaboon- en mielie-aanplantings raak, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA. “Ek het die afgelope week verby sojabone en mielies gery waar ’n mens eintlik maar net ’n vuurhoutjie kan ingooi dat dit kan brand, daar is groot skade.”
Groot dele van Mpumalanga en dele van die Oos-Vrystaat het twee maande gelede laas reën gehad. “Ek verwys veral na dele soos Middelburg, Wonderfontein, Carolina, Ermelo en Standerton,” vertel Ferreira.
Volgens Ferreira is die hartseer van die saak dat sojabone die meeste reën in Februarie en Maart nodig het vir ’n behoorlike oes, dus word dié gewas die ergste deur die droogte-toestande geraak.
Nasionale produksie
Ferreira sê verskeie weerstoestande het die seisoen se oeste beïnvloed, waaronder vloede langs die Vaal- en Oranjerivier, versuipskade aan gewasse in die noordelike en noordwestelike dele van die land en droogtes in die ooste.
Hy sê hoewel hulle weet dat party produsente groot skade gely het, kan hy nie voorspel wat die invloed op die land se oeste gaan wees nie. Ferreira sê dit is ironies dat ná baie reën aan die begin van die jaar, al die groot produksiegebiede in die land tans reën nodig het.
10 Maart 2011