Die internasionale resessie het die mark vir volstruisleer die afgelope geldjaar onder baie druk geplaas, sê Klein Karoo Internasionaal Beperk (KKI).
Luidens die maatskappy se jaarverslag vir 1 Julie 2009 tot 30 Julie 2010 is 40 600 méér volstruise in dié tydperk geslag, waarvan 73% na KKI gegaan het. Ondanks die hoër aanbod het die verkoop van volsstruisleer met 15% gedaal.
Die winsgewendheid van die maatskappy se vleisafdeling was ook onder druk dié geldjaar. Die euro het in die laaste helfte van die jaar aansienlik verswak en produsentepryse kon nie dienooreenkomstig aangepas word nie. Die verebedryf het wel ‘n goeie wins getoon, met die jaar wat op relatiewe lae voorraadvlakke afgesluit is aangesien die vraag en aanbod redelik in balans was.
Goeie groeijaar
Intussen het die maatskappy ‘n goeie groeijaar aangeteken met ‘n netto wins van R18,2 miljoen. Mnr. Johan Stumpf, besturende direkteur, sê as daar na hulle aangepaste wesensverdienste gekyk word is KKI se resultaat selfs beter op R21,3 miljoen - 127,5% hoër as die vorige geldjaar.
Stumpf sê die grootste bydraende faktor vir die groei is die verbeterde bruto marge (32,7% vs 31,7%) en ‘n drastiese verlaging in rente betalings weens laer netto skuldvlakke en laer rentekoerse. Die maatskappy se bedryfsaktiwiteite het tydens die periode positiewe kontantvloei van R9,2 miljoen aangeteken.
In geheel is R25,7 miljoen se positiewe kontantvloei gegenereer, en dit is die derde jaar in ‘n ry wat die KKI positiewe kontantvloei aanteken – “waarskynlik die enigste maatskappy in die bedryf wat dit wel suksesvol kon regkry,” merk Stumpf op.
Produsentebetalings
Die aankoop van volstruise is die maatskappy se enkele grooste uitgawe, en produsentebetalings vir die tydperk het ‘n netto bedrag van R384 miljoen beloop. Dit was 8,2% meer as in die vorige jaar.
Die aantal volstruise wat meer geslag is, was ‘n groot bydraende faktor – veral met uitbetalings per volstruis wat 10,9% laer as die vorige jaar was. Die aankoop van volstruise van totale kontantuitgawes was 5,4% persentasiepunte hoër as die vorige jaar.
“Ons maatskappy is deur ‘n moeilike tyd met die verskillende rasionalisasie-aksies, maar is nou reg geposisioneer om, sou voordele uit die wisselkoers en/of marktoestande ontstaan, dit aan te wend om die langtermyn lewensvatbaarheid van die bedryf en aandeelhouersopbrengs te verseker”, sê Stumpf.
12 November 2010