
Die druk oor grondhervorming in SA neem toe, sê mnr. Alan Winde, minister van landbou in die Wes-Kaap.
Winde was die openingspreker by die bekendstelling van die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskouingverslag tot 2023 in Somerset-Wes.
Hy wil binne drie maande ’n loodsprojek in een van die Wes-Kaap se distrikte identifiseer wat as suksesvolle grondhervormingsmodel kan dien. “Ons moet ’n verskil maak en dit gaan oor volhoubaarheid.”
Volgens Winde bied Afrika massiewe geleenthede vir plaaslike boere. “Ons moenie net kyk na wat ons in ons eie land kan doen nie. Ons het sekere dinge, soos stelsels, kapitaal en kennis, wat ons na die res van die kontinent kan neem en vennootskappe met boere in die res van Afrika kan vorm. Dan kan ons, as Afrika, baie anders handel dryf.”
Hy is baie tevrede dat daar deesdae glo meer wyn na Kenia uitgevoer word as na China. “Ons moet baie meer betrokke raak in Afrika en vennootskappe bou.”
Winde sê sy werk gaan oor vier dinge: innovasie, die verwydering van struikelblokke om handel te dryf, volhoubaarheid en risiko’s.
“Ons gaan deur innovasie in die streek beter kan produseer, nie net vir die provinsie nie, maar ook vir die res van Afrika.”