“Dit is onaanvaarbaar en onnodig dat produsente onder druk moet kom te midde van beter produksie en verhoogde voorrade,” sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA.
Gedurende sy voorsittersverslag by die jaarkongres op Bothaville vanjaar het Ferreira met dié stelling spesifiek verwys na die situasie waarin baie boere hulself tans bevind vanweë die oorskot mielies wat verlede jaar gelewer is.
Hy sê hulle het nie opgehou om oplossings vir dié oorskot te vind nie, ten spyte van die feit dat die Mededingingskommissie vroeër ’n uitvoerpoel afgekeur het en die staat sy voete sleep oor die moontlikheid van die hersiening van die land se moratorium op die gebruik van mielies vir biobrandstof.
Ferreira het opgemerk dat somergewasse versigtig bestuur moet word om die bedryf deur die moeilike tyd te dra.
Invoerbeskerming?
Volgens Ferreira is tydige invoerbeskerming ook broodnodig vir die bestuur van gewasse en die graanbedryf. “ ’n Voorbeeld hiervan is die laat aankondiging van die tarief op koring verlede jaar wat tot gevolg gehad het dat minder koring aangeplant is. Dit is kommerwekkend om te sien dat ons koringoeste oor die afgelope paar jaar met 13% afgeneem het!”
Ferreira sê hulle gaan vanjaar aandag skenk aan die tarief op invoere van bv. kanola-olies, veral ná die sukses wat hulle verlede jaar in dié verband in die sojaboonbedryf gehad het.
Bemoedigend
Ferreira het opgemerk dat dit bemoedigend is om te sien dat kontak en onderhandelinge met die staat oor die langtermyn vrugte afwerp, en hulle hoop dat dié samewerking in die komende jare kan verbeter sodat die staat vinniger sal optree.
Hy het produsente ook aangemoedig om optimisties te bly ten spyte van die uitdagings wat hulle in die gesig staar: “Ons weet daar is ouens wat weens die vloede groot skade en versuipskade het en in die oostelike dele is dit tans baie droog – party mielies en soja-aanplantings daar kan eintlik maar net aan die brand gesteek word, maar onthou daar is steeds rede om optimisties te bly.”
9 Maart 2011