
Nadat mnr. Nico en mev. Marsha Lens van Paulpietersburg (albei in hul vyftigerjare) op Woensdag, 3 September, op hulle plaas, Elim, doodgeskiet is, het die plaaslike polisie en die honde-eenheid baie traag gereageer, sê Afriforum.
Dié organisasie het 'n klag by die nasionale en KwaZulu-Natalse polisiekommissarisse aanhangig gemaak as gevolg van die slakkepas waarteen die plaaslike polisie en Newcastle se honde-eenheid gereageer het, nadat die Lense op hulle plaas, Elim, doodgeskiet is.
Volgens mnr. Eugene van Aswegen, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal, het mev. Lens se bure op haar liggaam in die slaapkamer afgekom nadat 'n noodsein oor die radiostelsel deurgekom het. Hulle het mnr. Lens se liggaam aan die buitewyke van die plaaswerf gevind.
“Die naaste polisiestasie is 30km van die plaas af, maar dit het die SAPD ongeveer ’n uur en half geneem om by die toneel aan te kom. Die Newcastle-polisie se honde-eenheid het eers ongeveer drie ure ná die voorval opgedaag. Die honde-eenheid is een van die waardevolste reaksie-eenhede, hulle moes dus baie vinniger op die toneel wees,” meen Van Aswegen.
Volgens Chris Fourie, AfriForum se provinsiale koördineerder in KwaZulu-Natal was dit reeds te donker vir 'n doeltreffende soektog. “Die gemeenskap se boere het die omgewing saam met die SAPD gefynkam vir die verdagtes.”