
Die inname van bokhaar vir hierdie somerseisoen by CMW het reeds met 20% gedaal. Die erge droogte en die feit dat die rand sedert ’n jaar gelede met 24% versterk het, weeg ook swaar op die mark.
Op die jongste veiling in die Baai het die gemiddelde markaanwyser met 1% teruggesak tot R184,73/kg. Dit is bykans 40% laer as op die ooreenstemmende veiling ’n jaar gelede.
Die hoogste prys R330 vir ’n baal 26 mikron superfyn haar. Die verkoper was mnr. Weeber Truter van Oudtshoorn.
Volgens mnr. Pierre van der Vyver van CMW neig die skeersels wat ontvang word fyner, maar is dit ook korter en die skoonopbrengs laer. Waar reën geval het en die veld herstel, is die gevaar van saadbesmetting van die skeersel groter.
Die omset op die jongste veiling was net meer as R24 miljoen. Sowat 8% van die aanbod is nie verkoop nie. Die volgende veiling is op 28 Maart.