
Plaasmoorde en -aanvalle wat vanjaar plaasgevind het, is gekenmerk deur doelgerigte marteling van slagoffers, sê genl.maj. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van die TLU SA. Volgens die TLU, wat rekord hou van hierdie voorvalle, is daar vanjaar al 47 plaasmoorde gepleeg en 239 plaasaanvalle het plaasgevind.
Die totale plaasmoorde verlede jaar was 71 en die aanvalle 369. Sedert 1990 tot nou was daar al 1 903 plaasmoorde gepleeg en 4 353 plaasaanvalle het voorgekom. Van Zyl sê geoordeel aan die huidige moordsyfer en gemeet aan die syfer vir dieselfde tydperk in 2016, en mits die huidige tendens voortduur, behoort daar steeds ’n jaarlikse toename van moorde wees.
Sedert 2012 toon die statistiek duidelik ’n jaarlikse toename van die moordsyfer aan. Daar was 53 plaasmoorde in 2012, 59 in 2013, 61 in 2014, 64 in 2015 en 71 in 2016. Hy sê dieselfde toename is merkbaar wanneer die plaasaanval-syfers vir die voorafgaande jare vergelyk word. Syfers van die vorige vier jaar wys dat daar in 2013 altesaam 231 aanvalle was, 279 in 2014, 318 in 2015 en 369 in 2016.
Hier is die TLU SA se analise van plaasmoorde vanaf 1990 tot nou in PDF-formaat.
Gauteng steeds gevaarlikste
Gauteng toon steeds die grootste aantal moorde gevolg deur Noordwes en Mpumalanga met Limpopo in die derde plek. Die Oos- en Noord-Kaap se insidente is by verre die minste.
Uit die voorafgaande gegewens kan die vraag tereg gevra word, met welke sukses die Suid-Afrikaanse Polisiediens se strategie vir landelike veiligheid in die praktyk beslag kry synde plaasaanvalle ’n nasionale prioriteitsmisdaad is?
Hoewel mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, politici afraai om nie plaasmoorde te verpolitiseer nie, het hy toe hy die begrotingsrede van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gelewer het in die Nasionale Raad van Provinsies, dit duidelik gestel dat daar nie meer stilgebly kan word oor hierdie moorde nie.
Hy het gesê dat landsburgers moet saamstaan teen die skandvlek wat in die land posgevat het.
Veediefstal
Wanneer ander misdade wat op die landbou betrekking het, veral veediefstal, in berekening gebring word, vergroot die impak op volhoubare landbou en voedselsekerheid dienooreenkomstig.
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê hoewel moorde en aanvalle tot tussen 95% en 100% gerapporteer word, is dit nie die geval by veediefstal nie. Slegs 30% van hierdie misdaad word gerapporteer wat dit moeilik maak om ’n volledige prentjie te skets van hoe groot die probleem werklik in die land is.
“Ons het meer veediefstal as wat ons sal wil erken. Misdadigers sien ook boere meld dit nie meer aan nie en misbruik dit.”
Dit wil blyk dat eienaars van die vee nie vertroue in die vermoë van die polisie het om hul vee terug te kry en die oortreders suksesvol te vervolg nie. Volgens Clack sal veediefstal nie verdwyn nie want hoewel net geregistreerde agente hulle moet besig met die koop en verkoop van vee, is dit nie altyd die geval nie.
(Tabel wat gepubliseer kan word van analise van plaasmoode van 1990 tot 2017)