
Die vragskiphouer-depot het deurgeloop in die vloed. Op sosiale media was foto’s van houers wat op die hoofweë dryf, stapels vragskiphouerss wat omgeval het, en houers wat rondom die depot rondlê.
Mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het verlede week tydens sy besoek aan die hawestad, wat ernstig beskadig is tydens vloed, gesê die Durbanhawe is weer ten volle bruikbaar.
Die sitruskwekers het onder meer sy departement, Transnet en die Ethekweni-munisipaliteit geloof vir die spoed waarmee hulle die hoofroete na die vragskiphouerteminale weer kon heropen, asook om alternatiewe herleidingspaaie beskikbaar te maak. Die vloed het ernstige skade aangerig aan ingangsroetes op Bayheadweg, asook uitgaande paaie. Die uitgaande roetes vir die pad is ook voor skedule heropen. Daar is ook alternatiewe roetes deur woonbuurte gebruik om te verseker dat brandstof en noodsaaklike vrag by die hawe kan uitkom.
Vragskiphouers
Volgens die SASKV dui die jongste inligting dat drie van die tien houerdepots ten volle in bedryf is, en daar word hard gewerk daaraan om die res weer in bedryf te kry. Dit behels onder meer dat water en kragtoevoer herstel word, terwyl struktuurwerk – wat langer sal duur – nodig sal wees.
Nog ’n rede tot kommer vir die bedryf is leë houers. Talle houers is in die vloed beskadig. Nou moet bepaal word hoeveel van hulle nog bruikbaar is.
Die versending van uitvoer is ook vertraag. Dit het ’n uitwerking op die beskikbaarheid van vraghouers, wat vererger word deur skepe wat kies om verby die Durbanhawe te vaar.
Die meeste koue-opbergingseenhede het geen struktuurskade weens die vloed nie en neem steeds vrugte in. Daar is tans kapasiteit om meer vrugte te ontvang en die situasie sal gemonitor word om te verseker die vrugte wat in Durbanhawe aankom, kan opgeberg word.
Spoorweginfrastruktuur is ernstig beskadig, wat beteken geen vervoer per spoor kan plaasvind nie. Transnet Freight Rail herstel die infrastruktuur, maar dit sal nog geruime tyd wees voor die netwerk herstel en ten volle in bedryf is.
Die twee vrugteterminale wat gespesialiseerde verkoelde vragskiphouers kan ontvang, se werksaamhede gaan aan soos normaal, wat beteken skepe kan sonder oponthoud gelaai en vragte versend word.