
Makube sê in ’n verklaring die huidige hoë vleispryse word beïnvloed deur ’n kombinasie van faktore, insluitende ’n laer voorraad weens laer slagsyfers, laer invoer van hoendervleis weens hoë pryse en ’n sterk vraag na vleis van verbruikerskant af ten spyte van moeilike ekonomiese omstandighede wat verbruikers se finansiële posisie onder druk plaas.
Tesame hiermee ervaar veeprodusente enorme kostedruk weens hoër voerpryse wat winsmarges laat krimp. Die prys van mielies, ’n hoofbestanddeel in voerproduksie, het vanjaar met 43% tot R4 989/t vir witmielies en 28% tot R4 837/t vir geelmielies gestyg. Die prys van sojabone, wat plantproteïen in dierevoer verskaf, het op ’n jaargrondslag met 39% tot R10 561/t gestyg.
Wat beesvleis betref, het die prys van T-been met 18% op ’n jaargrondslag gestyg tot R135,48/kg, terwyl borsstuk en dikribskryf onderskeidelik met 11,8% en 10,4% gestyg het. Varkvleispryse het ook gestyg, hoewel meer gematig. Die prys van varkribbetjies het met 3,9% tot R94,59/kg gestyg en die prys van filet met 2,8% tot R104,62/kg.
Die prys van varktjops het met 3,8% afgeneem. Die prys van lamstjops het met 4,8% tot R195,55/kg gestyg. Die prys van heel vars hoender het met 7,2% tot R63,85/kg gestyg, terwyl die prys van individueel bevrore stukke met 5,1% tot R86,69 vir 2 kg gestyg het.
Makube sê verligting word teen Nuwejaar verwag wanneer die laer seisoenale vraag na vleis ná die Desember-feestyd afneem. Saam met ’n moeilike ekonomiese omgewing weens die koste van elektrisiteit en vervoer kan dit afwaartse druk op vleispryse plaas.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.