
Pioneer Foods se winsgewendheid vir die ses maande tot einde Maart is benadeel deur 'n ongunstige verkrygingsposisie vir mielies. Die groep het in 'n verklaring gesê die posisie is in 2016 ingeneem om genoeg voorraad te verseker.
“Die besluit was op versigtige oorweging van die beskikbare inligting op daardie tydstip gegrond.” Die groep se internasionale afdeling is erg geraak deur 'n rosyntjietekort, uitvoer na Afrika, en 'n sterker rand.
Minder koeldranke is uitgevoer en marges was laer weens wisselkoersverswakking in sleutelmarkte. Rosyntjies het histories 'n groot bydrae tot die winsgewendheid van die internasionale afdeling gelewer, maar die oes was kleiner en die rand relatief sterker.
Prestasie
Die groep noem dat Nigerië nog vir hom 'n klein mark is, maar dat dit 'n gunstige bydrae gelewer het. Sy inkomste het in die ses maande met 2% gestyg, omset in sy Suid-Afrikaanse afdeling het met 4% gestyg, maar in die internasionale afdeling het dit met 11% gedaal.
Pioneer Foods se aangepaste wesensverdienste was 47% laer, terwyl kontant wat deur bedrywighede gegenereer is, met 27% gestyg het. Die groep verwag beter prestasie in sy volgende halfjaar, selfs al is die handelsomgewing in Suid-Afrika onder druk.
Hy verwag 'n groter voorraad van rosyntjies, laer koste vir mielies as produksiemiddel vanaf Junie, laer produksie-middelekoste vir koeldranke, en dan het hy ook onder meer sy produksievermoëns by sy Aeroton-bakery vergroot.