
Ingevolge ’n afkondiging in die Staatskoerant verhoog die heffings op die verkoop van lewende diere en op die vleis van beeste, skape en bokke van 5 November af.
MSMS (Meat Statutory Measure Services) die onderneming wat vir die administrasie van die heffings verantwoordelik is, sê in ’n verklaring die verhogings by abbatoirs (BTW uitgesluit) vir beeste is R7,10 per kop teenoor die vorige R6,45. Vir skape en bokke styg dit van R1,25 per kop tot R1,38.
Vleishandelaars betaal nou R450 pleks van R400 per jaar, of gedeelte van die jaar, waarin rooivleis, geprosseseerde varkvleis of rooivleisprodukte verkoop word.
Invoerders se heffing verhoog van R720 tot R792 per vraghouer vir rooivleis of rooivleisprodukte wat ingevoer word. Uitvoerders se heffing vir beeste styg van R6,45 per kop tot R7,10, vir skape en bokke van R1,25 per kop tot R1,38 en vir velle en huide van 1,24c/kg tot 1,37c/kg.
Verwerkers betaal nou 1,37c/kg teenoor die vorige 1,24c/kg terwyl agente en makelaars se heffing bly op 0,07% van hulle kommissie. Velle en huide se heffing verhoog van 1,24c/kg tot 1,37c/kg.
Lewende diere wat tussen koper en verkoper van hande verwissel en nie geslag word nie, se heffing verhoog vir beeste van R3,87 per kop tot R4,26 en vir skape en bokke van R0,83 per kop tot R0,90 per kop.