
Dr. Chris Moseki, spesialiswetenskaplike in klimaatsveranderingnavorsing by die departement, het op ’n werksessie vir openbare deelname oor die departement se voorgestelde derde waterhulpbronstrategie gesê duurder water is “die nuwe werklikheid”.
“Almal móét minder water vir dieselfde bedrywighede gebruik. Almal, buiten behoeftiges, moet vir dienste betaal,” het Moseki gesê.
Dr. Sean Phillips, direkteur-generaal, het aan Netwerk24 gesê water vir die landbou gaan “stelselmatig” duurder word sodat die departement sy infrastruktuur soos groot damme en waterpypleidings in stand kan hou, maar sonder om voedselpryse in gedrang te bring.
Phillips het op die werksessie gesê ’n mens moet erken dat die watersituasie verander het. Die toenemende voorkoms en intensiteit van ekstreme weerstoestande word deur die interregeringspaneel oor klimaatsverandering toegeskryf aan klimaatsverandering wat deur die mens veroorsaak word.
Sulke buitengewone weerstoestande veroorsaak wêreldwyd verwoesting en skep probleme vir boere en gemeenskappe in vloedgeteisterde gebiede.
In Suid-Afrika styg die vraag na water vanweë ekonomiese ontwikkeling, uitbreiding van die landbou en bevolkingsgroei.
“Ons het bykomende waterhulpbronne nodig om die groeiende ekonomie te ondersteun, maar 98% van ons beskikbare oppervlakwaterhulpbronne is reeds toegewys. Ons moet ’n situasie voorkom waar water ’n stremmende beperking vir ekonomiese groei word, soos wat elektrisiteit tans is.”
Voorgestelde maatreëls
Van die voorgestelde maatreëls in die konsep vir die derde waterhulpbronstrategie om aan watersekerheid aandag te gee, is die volhoubare uitbreiding van grondwaterontwikkeling, die oes van reënwater, die hergebruik van water op ’n groter skaal, die aanpak van kwessies rondom suurmynwaterdreinering en ontsouting van seewater.
Die heel belangrikste kwessies wat moet aandag kry, is die bestuur van watervraag en -bewaring, wat insluit om die hoë vlakke van lekkasie op munisipale vlak af te bring. Na raming gaan gemiddeld 45% tot 50% van water só verlore. “Dit beteken as ons miljarde rande bestee om nuwe waterhulpbroninfrastruktuur te bou, sal die helfte van die belegging onmiddellik vermors word deur waterlekkasies in munisipaliteite,” het Phillips gesê. “Dit maak eenvoudig nie sin nie.”
Die departement ontwikkel nou ’n program vir die verbetering van munisipale waterdienste deur steunprogramme.
Phillips het gesê die aanpak van die probleme in die watersektor is nie net die regering se verantwoordelikheid nie. Onder mnr. Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, se leierskap is ’n kantoor vir watervennootskappe by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gestig wat munisipaliteite gaan help om vennootskappe met die private sektor te sluit. Vordering word gemaak om verskeie groot vennootskappe met myne en landbou-ondernemings te sluit om grootmaatwater aan hulle te lewer en terselfdertyd water aan gemeenskappe langs die pyplyne.
Volgens Phillips gee Mchunu daaraan aandag om verskeie waterhulpbronprojekte weer aan die gang te kry en te versnel. Dit sluit in die Giyani-pyplynprojek, die verhoging van die Clanwilliam-damwal en fase twee van die Lesotho-Hoogland-waterprojek.
Die wetsontwerp vir die totstandbringing van ’n nasionale agentskap vir waterhulpbroninfrastruktuur sal volgens Phillips binnekort vir kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer word. Die agentskap sal ’n rol vervul soortgelyk aan dié van Sanral in die paaiesektor.
- Die konsepwaterhulpbronstrategie is op 29 Julie in die Staatskoerant gepubliseer en kommentaar moet binne 90 dae gelewer word.