Die parlementêre oorsigkomitee vir Landbou, Bosbou en Visserye het ‘n voorlegging aan me. Tina Joemat-Pettersson gestuur waarvolgens sy teen 26 Oktober ‘n besluit oor die toekoms van dr. Andile Dyasi, uitvoerende hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), bekend moet maak.
Mnr. Schalk de Bruin, woordvoerder vir Solidariteit, sê dit het gevolg na ‘n vergadering Dinsdag (19 Oktober) tussen die departement, OBP se raad en verskeie politieke partye in Pretoria. “Sy moet dan ‘n besluit dat Dyasi afgedank word óf verduidelik hoekom dit nie gedoen kan word nie.”
De Bruin sê die minister was nie self by die vergadering betrokke nie, maar mnr. Langa Zita, adjunk direkteur-generaal (DG) van die departement, het die vergadering bygewoon.
Groot ontevredenheid
Volgens De Bruin het die komitee en die verskeie partye hulle ontevredenheid met Dyasi baie duidelik gemaak. Dyasi het vroeër aansoek gedoen vir ‘n interdik teen dissiplinêre optrede van die OBP-raad teen hom, maar die Johannesburgse Arbeidshof het nie die aansoek afgekeur nie.
Die vakbond sê Dyasi is twee weke gelede, na ‘n dissiplinêre ondersoek deur ‘n onpartydige kenner, tydens ‘n dissiplinêre verhoor deur die OBP-raad aan verskeie klagtes skuldig bevind.
Die raad het aanbeveel dat Dyasi afgedank moet word, en het kort daarna ‘n brief in dié verband aan die minister gestuur. Joemat-Pettersson moet nou ingevolge die akte van die OBP-raad se oprigting dié aanbeveling bekragtig.
20 Oktober 2010