
Een kommersiële boer in Suid-Afrika voed tans sowat 1 100 mense in die land, aldus dr. Pieter Mulder, die Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Hy het boere Woensdag (31 Augustus 2011) op die TLU SA se jaarlikse kongres in Pretoria aangemoedig om met hul bedrywighede voort te gaan.
“As jy dié statistiek in ag neem, moet boere in ons land vertroetel word. Hulle moet beskerm word en nie onder druk kom soos wat tans in Suid-Afrika die geval is nie,” sê Mulder.
Tanzanië maan
Hy sê hy het die minister van landbou in Tanzanië onlangs besoek, en dié het hom gemaan dat Suid-Afrika mooi na sy kommersiële boere moet omsien. “Hy het aan my gesê, kyk mooi na julle boere, ons sal hulle graag hiér wil hê.”
Mnr. Ben Marais, die voorsitter van die TLU SA, sê hulle kan ook nie verstaan hoekom boere nie waardering kry nie.
“Hoekom is dit dat ander lande Suid-Afrikaanse boere hoog aanslaan, maar in Suid-Afrika word hulle soos die sogenaamde gans geslag vir die goue eiers?”
Hy sê dit is ironies dat die stelling gereeld gemaak word dat die rykdom in die land verdeel moet word, “maar as daar nie rykdom is nie, kan dit nie verdeel word nie.”
Voedselsekerheid
Mulder sê dit is verblydend dat voedselsekerheid tans hoog op die land en die wêreld se agenda is, maar hy wonder hoeveel van die wêreld en Suid-Afrika werklik verstaan wat voedselsekerheid is.
“Ons prentjie lyk so dat boere tot 2030 elke jaar 2,5% meer sal moet produseer vir die groeiende bevolking. Teen 2025 sal die land se bevolking 58 miljoen mense wees, en in Gauteng alleen sal dit 20 miljoen wees.
"Terselfdertyd het landbougrond in die land met 30% afgeneem, wat aan grondhervorming, die wisselkoers en ander faktore toegeskryf kan word,” verduidelik Mulder.
Malema
Wat die afgelope week se gebeure by Julius Malema se tugverhoor in Johannesburg aangaan, sê Marais die opstande en geweld laat vir hom verskeie gevaarligte vir die land se toekoms flikker.
“Die huidige opstande moet dringend aandag kry en verg streng optrede. Die magsvertoon is onrusbarend,” aldus Marais.
Ter afsluiting sê Marais die landbou smag daarna om net oor sake te praat wat die bedryf sal bevorder, en wil nie vasgevang word in politiekery en allerhande uitsprake nie.
31 Augustus 2011