
’n Pluimveeslagplaas wat deur die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming teen ’n koste van R7,6 miljoen in Grahamstad opgerig is, staan meer as ’n jaar later nog ongebruik.
Die slagplaas sou einde Augustus verlede jaar sy deure oopgemaak het, maar daar is nog nie ’n enkele hoender geslag of werker in diens geneem nie. Dit is opgerig om ontwikkelende boere te bemagtig en om werkloosheid in Grahamstad aan te pak. Die grond waarop die aanleg opgerig is, behoort aan die munisipaliteit, maar dit is onbekend of die slagplaas huur betaal.
Volgens plan sou 26 mense permanent in diens geneem word om sowat 2 000 hoenders per dag te slag, te verpak en af te lewer. Die Lukhanyiso-koöperasie sou die projek bestuur. Van die koöperasie se begunstigdes is 149 vroue, 68 jong mense en 6 gestremdes. Boere uit voorheen benadeelde plaaslike gemeenskappe sou die hoenders verskaf.
Mnr. Martin Fick, ’n boer van Salem buite Grahamstad, sê hy het die oprigting van die pluimveeslagplaas in 2008 aan die munisipaliteit voorgestel. Die projek is in 2012 deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming op tender uitgesit en kort daarna is met bouwerk begin.
“Die probleem is dat daar nie groot hoenderplase in hierdie streek is nie. Jy kan nie die infrastruktuur oprig as jy nie die verskaffing en die bemarking agtermekaar het nie,” sê hy.
Hy meen ’n slagplaas wat 2 000 hoenders per dag slag, hoef nie soveel te kos nie: “Die gebou is te groot en die kapasiteit te veel. Dit sal baie kos om so ’n groot slagplaas aan die gang te hou.” Hy raam die produksiekoste van dié tipe slagplaas is omtrent R12 miljoen vir die eerste drie maande. Daar was ook geen plan om broeihoenders aan boere te verskaf nie.
Fick het aangebied om hoenders te verskaf, maar sy aanbod is van die hand gewys omdat die projek “slegs vir opkomende boere” is. Hy sê plaaslike kleinhandelaars het daarin belang gestel om die produkte te koop, want hulle sou swartbemagtingsverskafferspunte kry: “Die mark is daar, maar dan moet jy ’n deurlopend voorraad kan verskaf.”
Mnr. Kenneth Mdana, voorsitter van die Lukhanyiso-koöperasie, sê die slagplaas staan die afgelope jaar toe omdat hulle “nog toerusting kort”. Hy sê die slagpale sal oor ’n maand oopmaak. Die kantoor van mnr. Mlibo Qoboshiyane, Oos-Kaapse LUR vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, het nie op navrae gereageer nie.