
Die Krugerwildtuin word steeds die hardste geslaan met 147 renosters wat in die eerste 164 dae van vanjaar doodgemaak is. Dié wildtuin het verlede jaar altesame 252 renosters verloor.
Die provinsiale en private wildreservate wat tans die meeste deur stropers geteister word, is in Limpopo, KwaZulu-Natal en Noordwes geleë. Vrektes weens stroping in dié provinsies staan onderskeidelik op 34, 25 en 24. Mnr. Albi Modise, woordvoerder vir die Departement van Omgewingsake, sê in dieselfde tydperk is 161 stropers aangekeer. Die meeste van die stropers, 44, is in Mpumalanga in hegtenis geneem.
Vyf stropers
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die Private Renostereienaarsvereniging (PROA), sê vyf mans is vroeg Maandagaand (11 Junie 2012) naby Brits in hegtenis geneem. Die mans het ’n jaggeweer by hulle gehad en is vermoedelik aangekeer terwyl hulle op pad was om renosters te gaan doodmaak.
Jones sê dit wil voorkom of die tempo waarteen renosters doodgemaak word, tans afneem. Dít het vermoedelik te doen met die inhegtenisneming van vlak-een-oortreders en verskerpte polisie-optrede. “Ons hoor gerugte dat van die sindikate sê hulle is baie meer senuagtig om toe te slaan. Ons glo dit is die gevolg van inligting wat gemeenskappe aan die owerhede oordra, asook die polisie se verskerpte reaksie.”
Jones sê hulle is nie gerus oor die verlangsaming in die vrektes nie. “Teen einde verlede jaar het ons ook ’n afname gesien, en toe in Desember slaan hulle weer toe en maak ’n groot klomp diere dood. So lank as wat renosterhoring as kommoditeit hoë pryse behaal, sal misdadigers maniere kry om dit in die hande te kry.”