Elke sewentien uur word ’n renoster tans in Suid-Afrika doodgemaak, met die dodetal vir vanjaar wat 70 verbygesteek het.
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die Private Renostereienaarsvereniging (PROA), sê stropers het vanjaar al 74 renosters vir hul horings doodgemaak.
In die jongste voorval is die karkasse van twee witrenosters in die Kruger Nasionale Park (KNP) gevind. Luidens ’n verklaring sê Sanparke wildkykers het op die karkasse afgekom en onmiddellik wildbewaarders en die Polisie in kennis gestel.
Die diere is in die Pretoriuskop-omgewing gevind. Die karkasse was vars, en die stropers word tans gesoek.
Gefrustreerd
Mnr. William Mabasa, die KNP se hoof uitvoerende bestuurder vir kommunikasie en openbare skakeling, sê: “Dit is inderdaad ’n hartseer storie dat ons moet voortgaan om dooie renosters in die park aan te meld. Ons doen ’n baie ernstige beroep op die publiek om ons by te staan met inligting oor vermeende stropers deur hulle by owerhede aan te gee.”
Jones beskryf die situasie as skrikwekkend en hy sê private eienaars is raadop. “Dit wil voorkom of ons net meer van dieselfde doen, terwyl die misdadigers steeds daarmee wegkom.
"Ons kry meer gevorderde tegnologiese sekerheid, sit meer heinings op, stel meer veiligheidswagte aan, maar hulle maak steeds die diere dood. Die situasie is tans uiters frustrerend!”
28 Februarie 2012